Hoekom so ‘n gegons oor Grenache?

Die ding met Grenache….

Diegene wat al ‘n bottel Cecilia gesien en/of geproe het sal weet dat dit ‘n versnit van Shiraz, Mourvèdre en Malbec is. Shiraz en Mourvèdre is belangrike boustene van die versnitte van die suide van Frankryk, terwyl Malbec weer deel uitmaak van die rooiwynversnitte van Bordeaux. Kyk mens dieper na die Rhone-versnitte kom jy gou agter dat daar ‘n ander kultivar is wat gereeld genoem word, naamlik Grenache. In meeste van die streek se distrikte is Grenache ‘n belangriker bestanddeel van die versnit as Mourvèdre.

Grenache is nie net ‘n belangrike kultivar in Frankryk nie. Die Spanjaarde werk al vir honderde jare met die kultivar. Die wyne van veral Rioja en die al hoe meer gewilder Priorat gee ‘n mens ‘n goeie idee van die goeie eienskappe van die kultivar.

Die versnitonderwerp neem ons ook verder oos na Australië. Hier is Grenache ‘n belangrike bousteen van die sogenaamde “GSM”-versnitte (Grenache, Shiraz, Mourvèdre).

Praat mens oor die wingerd en wynmaakproses van Grenache, is daar ‘n paar dinge om in gedagte te hou: Die wyne wat Grenache beroemd gemaak het, kom van ou bosstok wingerde af wat baie min druiwe per stok dra. ‘n “Bosstok” is ‘n wingerdstok wat laag op die grond groei sonder die hulp van pale en drade. Dit lyk my dieselfde geld vir Grenache as vir mense: met die grysheid kom wysheid….: Hoe ouer Grenache stokke raak, hoe beter raak die natuurlike verhouding tussen die hoeveelheid druiwe en die blare en lote wat hierdie druiwe “versorg” – hoe beter die kwaliteit dus. Jong Grenache stokke dra baie druiwe en die korrels is groot. Dit is gewoonlik ‘n minder ideale situasie, want om ‘n wyn met karakter te maak, moet daar ‘n beperkte hoeveelheid sap in verhouding tot die doppe wees. As daar te veel sap is waarin die geur- en kleurverbindings moet oplos, is die gevolg gewoonlik ‘n dun wyn.

Grenache is ook baie vatbaar vir donsskimmel. Donsskimmel is ‘n swam wat op die oppervlak van die blaar groei en die blaar se vermoë om te fotosinteer belemmer. Ek het ‘n bietjie gesels met een van Suid-Afrika se vooraanstaande wynmakers en hy het spottenderwys gesê, “As jy wil seker maak of daar donsskimmel in jou wingerd is, stap eers deur die Grenache”.

Hoe smaak wyne wat van Grenache gemaak is? Daar is ‘n wye verskeidenheid geure en smake. In die Spaanse streek, Priorat, is die wyn tradisioneel donker en redelik swaar. Hulle benodig ‘n paar jaar om te verouder en meer toeganklik te raak. Dit is egter aan die verander aangesien die wyne deesdae meer toegankliker is maar steeds goed kan verouder.

Dit is bietjie moeiliker om ‘n spesifieke karakter te verbind met Grenache in Frankryk, aangesien die kultivar meesal saam met ander kultivars versny word. Oor die algemeen word hierdie versnitte gekenmerk deur rooivruggeure asook speserye. Omdat die klimaat sonnig is, is die wyne redelik sag en vrugtig met matige hoeveelhede tannien.

Die rosé wyne wat van Grenache gemaak word, bring my by die eerste punt van my Grenache-storie: Die suide van Frankryk is nie net bekend vir rooiwyne van Grenache nie maar ook vir rosé-wyne. Die woord “rosé” verwys na rooidruiwe wat soos witdruiwe verwerk is om ‘n pienkkleurige wyn te maak. Dit kan egter ook, onder sekere omstandighede, verwys na rooiwyn wat met witwyn versny is om dieselfde resultaat te kry. Om verwarring te voorkom, noem sommige kelders hul rosés “Blanc de Noir”, wat letterlik vertaal sou kon word in “wit van swart (rooi)”.

Een so ‘n voorbeeld is Klawer se Grenache Blanc de Noir.

Klawer het ‘n paar jaar gelede hul eerste Grenache Blanc de Noir gebottel. Die wingerd moes egter uitgehaal word en dit het ‘n rukkie geneem voordat daar weer Grenache druiwe beskikbaar was om die wyn van te maak. Die 2011 Birdfield Grenache Blanc de Noir is eersdaags weer beskikbaar en ek het by Roelof van Schalkwyk, die wynmaker, ‘n draai gemaak om so bietjie meer uit te vind oor die wyn. 

(Na vele pogings om ‘n geredigeerde weergawe van die onderhoud te laai, het ek nou moed opgegee. Met my geluk sal ek nie eers dit regkry om ‘n videogreep, waarin die beeld en klank gesinchroniseer is, gelaai kry teen die tyd dat die volgende oes gereed is nie! Daarom dan ‘n geskrewe weergawe van ons geselsie…)

Die druiwe word na rotortenke afgemaal en sodra die tenk vol is, word die vry sap afgetrek en verder soos witwyn behandel. Roelof vertel dat “granaat” en “pienk spookasem” van die karakters is wat gereeld genoem word wanneer mense hierdie Blanc de Noir proe. Op my vraag oor wat die beste geleentheid is om ‘n glasie te geniet, was sy antwoord dat dit ‘n wenner is saam met ‘n lekker visgereg.

Groetnis!

Cerina van Niekerk

Wynmaker van Cecilia en

Klawer Wynkelder se Trawal perseel

N.S: Die tweede rede vir my ondersoek na Grenache is die vraag of Grenache ‘n positiewe bydrae kan maak tot Cecilia se versnit? Meer hieroor op ‘n ander dag…

 

 

 

Leave a comment