Van William Webb Ellis tot Veritas Dubbelgoud…

“Bling, bling, bling…. van William Webb Ellis tot Veritas dubbelgoud!”

 2010 was die jaar van die groot sokkerkoors…

2011 is die jaar van die groot rugbykoors…

 Ek het my kelderspan leer ken as groot sokkergeesdriftiges. Dit het parstyd 2010 begin: na ‘n woeste week van druiwewaentjies ontvang en verwerk, was die twee of drie ure blaaskans op ‘n Sondagmiddag vir my rustige oomblikke. Nie vir hulle nie. Dit was net genoeg tyd om ‘n ongelukkige opponent kaf te draf op die sokkerveld. Week na week het ek my verwonder aan hulle stamina! Die tyd het aangestap en ‘n paar maande na die pars was ek verras oor hoe die sokkergees my beetgekry het. (‘n uitmergelende eksamenpoging en die sokkergeesdrif in die kelder het baie daarmee te doen gehad). 

Vandag, min of meer ‘n jaar later, sit ek en al die sokkergeesdriftiges in die kelder se raadsaal en kyk Suid-Afrika se laaste wedstryd in poel D. Rugbygeesdriftige of nie, enige werker raak opgewonde oor so ‘n verandering in omgewing, veral as dit op ‘n Vrydag gebeur! (Op hierdie stadium, so 30 minute in die eerste helfte, het die Bokke die oorhand oor die Samoane. Die Samoane se energie is tot dusver meer in vuishoue gekanaliseer as na vlugvoetige lopies).

My gedagtes dwaal en ek wonder wat ‘n buitestaander sou dink oor al hierdie geskarrel, en dit vir ‘n goue koppie…! My gedagtes dwaal verder (net vir ‘n oomblik egter want Habana lê op die naat van sy rug na ‘n harde ontmoeting met ‘n Samoaan) en ek dink aan die opskrifte wat die afgelope tyd wine.co.za se hoofblad vul. Kelder op kelder spog met medaljes wat by een of meer van vele wynskoue verower is. Daar is die Nasionale Jongwynskou, die Terroir Wine Awards, Top 100, Michelangelo, SAL, Tri Nations (vir wyn, nie rugby nie) en so kan die lysie vir lank aanhou. (Die gemoedere op die skerm loop steeds hoog, terwyl ‘n hinkepinkende Habana deur Derek Hougaard vervang word). 

(Ag nee, arme Derek was skaars op die veld toe loop hy hom in ‘n blou muur vas en moet die veld verlaat…Sekondes later spoel die blou truie van Samoa oor die Bokke se doellyn, nes die blou water van die Weskus op die wit sand by Yzerfontein…!!)

Terug by die goue koppies vir wyn: ek kan nie help om te wonder hoe Meneer en Mevrou Verbruiker besluit watter kompetisie se goues hulle wil aanskaf nie. Speel dit enigsins ‘n rol in hul keuse? (shoe, amper is daar nog ‘n blou brander op die strand…gelukkig is die brander gebreek met ‘n strafskop vir die Bokke). In Julie elke jaar word die land se jongwyne beoordeel. Dit is die oudste wynskou in Suid-Afrika. Hierdie skou se ekwivalent tot die William Webb Ellis is die Generaal Jan Smuts Trofee. Die wyne wat meeding om hierdie trofee is almal van die jongste oes en hoef nie ‘n reeds gebottelde wyn te wees nie. (met min tyd oor probeer die bokke hard om ‘n 8 punt voorsprong bietjie verder te rek).

Wat beteken dit egter vir die verbruiker om te weet dat kelder so en so drie tenke het wat elk ‘n goue medalje verower het? Hoe weet hy of sy wanneer daardie goue wyn in die bottel is? Hulle sal dalk nooit weet nie. Dit is dan ook die rede dat landgoedere en sommige kelders wat meeste van hul wyn in gebottelde formaat verkoop, nie aan hierdie kompetisie deelneem nie.

Daar is egter ‘n paar ander redes vir deelname aan die Jonwynskou: Produsente kelders, soos Klawer, maak ‘n groot volume wyn wat nooit onder Klawer se handelsmerk gebottel gaan word nie. Die Jongwynskou bied vir sulke kelders ‘n geleentheid om ‘n idee van die standaard van hul wyn te kry voordat die wyn verskuif word na die koper. Die verskillende panele het ook die kans om te kyk hoe die oesjaar ‘n spesifieke kultivar of styl behandel het. Die Cabernet klas word dalk in ‘n sekere jaar gekenmerk deur goeie lengte en vrugintensiteit of die Sauvignon Blanc-wyne is besonder kompleks in ‘n ander oesjaar. Alles inligting wat ‘n rol in die mark kan speel.

Alles goed en wel, maar wat van die wyne wat dan nou nie ‘n medalje kry nie? Is dit noodwending ‘n minderwaardige voggie? Ek is dalk nie die regte een om hierop te antwoord nie. Die feit dat ek wyn maak veroorsaak dat ek nie heeltemal objektief kan wees nie, maar miskien kan dit wat ek al ervaar het iemand help om hul eie opinie hieroor te vorm: Dit is so dat sommige wyne skynbaar op elke kompetisie met ‘n paar medaljes wegstap. Later is daar nie meer genoeg plek vir die etiket en al die goue plakkers op die bottel nie! Hierdie wyne is gewoonlik wyne wat baie intense karakters het sodat hulle feitlik tussen alle wyne uitstaan. Dit is egter nie altyd die beste eienskap as mens ‘n wyn soek wat subtiele kosgeure moet komplementeer nie. Wyne wat meer subtiel is, en hier bedoel ek nie die subtiel wat ‘n versagtende beskrywing vir karakterloos is nie, word soms gemis onder skoutoestande. Oor hierdie stelling sal baie skou-organiseerders met my verskil.

(die wedstryd is amper verby so ek moet my storie begin afsluit…) My gevoel is dat daardie goue medalje, hetsy vir ‘n wyn of ‘n rugbyspan, bewys dat die spesifieke wyn of span onder sekere omstandighede die beste was, of so goed was dat dit vir ‘n goue medalje gekwalifiseer het. 

Wat van die res dan? Moet ons die bottels uitgooi en die verloorspanne verban van enige verdere wedstryde? Nee, ek dink daar is baie meer faktore wat ‘n rol speel in ‘n span of wyn se sukses al dan nie. Bafana Bafana het nie die sokker wêreldbeker gewen nie, maar hulle is dalk ‘n paar tree nader aan die uiteindelike oorwinning. Net so is dit baie moontlik dat ‘n silwermedaljewyn eerste klas gaan smaak op die strand saam met ‘n stukkie gebraaide Weskus snoek op ‘n warm somersdag!  

(Die eindfluitjie blaas met die Bokke wat oorwin met 13 punte teenoor 5 oor Samoa. William Webb Ellis hier kom ons..!)

 Nie heeltemal wynskou nie, maar iets soortgelyks!

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: